Stille Nag Geskiedenis

SILENT NIGHT HOMEPAGE - silentnight.web.za

 

English
Engels
Deutsch
Duits


Spaans

Russian
Russies

STILLE NAG: Die lied wat oor die hele wêreld gesing word
deur Bill Egan, Kersfees Geskiedkundige

180 jaar gelede is die kerslied "Stille Nacht! Heilige Nacht" vir die eerste keer in die kerkgebou van 'n klein dorpie, Oberndorf, in Oostenryk gehoor. Die kerkgangers by daardie middernagmis in die St. Nicholas het gesluister hoe die stemme van die assistent-pastoor, Joseph Mohr, en die koormeester, Franz Xaver Gruber, deur die kerk weergalm het saam met Mohr se kitaar. Na elke ses verse het die koor die laaste twee reëls herhaal om vierstemmige harmonie te vorm.

Daardie Kersaand is 'n lied gebore wat in die harte van mense reg oor die wêreld sou voortleef. Nou reeds vertaal in honderde tale, word dit elke Desember gesing deur miljoene - van klein kerkies in die Andes tot groot katedrale in Antwerp en Rome.

Vandag is boeke, rolprente en Internetbladsye gevul met fantastiese verhale wat die geskiedenis rondom "Stille Nag" vertel. Sommige van hulle vertel van muise wat die orrelblaasbalk verniel het en hoe dit uiteindelik verantwoordelik was vir die skryf van die lied en die begeleiding met kitaar. Ander maak die bewering dat Joseph Mohr gedwing is om die lied in 'n haas te skryf omdat die orrel buite werking was. 'n Onlangse rolprent, wat deur 'n Oostenrykse televisiestasie geproduseer is, skets Oberndorf as 'n dorpie in die Alpe wat selfs skelm spoorweg baronne en 'n oneerlike priester in die verhaal insluit, terwyl 'n ander boek deur 'n Duitse skrywer die oorsprong van die lied aan Franz Gruber toeskryf en Joseph Mohr verbind word met 'n tragiese brand wat die stad van Salzburg geteister het. Daar word ook genoem dat "Stille Nag" met Kersaand van 1818 gesing is en deur die skrywers daarvan vergeet is. Maar natuurlik is daardie bewering lank reeds as verkeerd bewys deur manuskripte en verwerkings deur Mohr en Gruber wat geproduseer is in 'n tydperk tussen 1820 en 1855.

In die era van poniekoerant joernalisme is dit nie verbasend dat sommige voel om ekstra anekdotes en fabels by te las aan 'n storie wat eintlik mooier is in sy eenvoudigheid. 

Die Duitse woorde in die oorspronklike ses verse van "Stille Nag" is deur Joseph Mohr in 1816 geskryf, toe hy as jong priester aangestel is by 'n kerk in Mariapfarr, Oostenryk. Sy oupa het in die gebied gewoon en hy kon maklik die inspirasie vir die lirieke uit die omgewing kry, oppad na sy oupa se huis. Maar in der waarheid weet niemand regtig wat Joseph Mohr so geïnspireer het om die poëtiese weergawe van Christus se geboorte neer te pen nie. Die wêreld kan baie dankbaar wees dat hy nie die manuskrip daar gelaat het toe hy die volgende jaar (1817) na Oberndorf verplaas is nie.

Op 24 Desember 1818 reis Joseph Mohr na die huis van die musikant en onderwyser Franz Gruber wat in 'n bovertrek van 'n skoolgebou, naby Arnsdorf, gewoon het. Nadat hy sy gedig aan sy vriend getoon het vra hy of Gruber vir hom 'n melodie op kitaar vir die lied kan komponeer sodat dit tydens die Middernagsdiens gesing kon word. Die eintlike rede hoekom Mohr 'n nuwe lied wou hê is onduidelik. Party mense het gespekuleer dat die kerkorrel buite werking was terwyl ander geglo het hy wou bloot net 'n nuwe kerslied maak vir die diens.

Later daardie aand het die twee mans, saam met 'n koor, vir die eerste maal voor die hoofaltaar van die in St. Nicholas Kerk die lied "Stille Nacht! Heilige Nacht!" gesing. Min wetend van die impak wat die lied later oor die wêreld sou hê.

'n Meester orrelbouer en herstelwerker, Karl Mauracher van die Zillervallei, het 'n paar keer na Oberndorf gereis om aan die orrel te werk. Terwyl hy een keer by die St. Nicholas kerk gewerk het, het hy 'n kopie van die lied gekry en dit huistoe geneem. So het die eenvoudige kersliedjie se reis rondom die wêreld begin as 'n "Tiroolse volksliedjie".

Twee rondreisende families van sangers, ook van die Zillervallei - soortgelyk aan die Von Trapp familie van "The Sound of Music" faam - het die lied ook ingesluit by hulle repertoire. Volgens die Leipziger Tageblatt, het die Strassers die lied in 'n konsert in die stad Leipzig gedurende Desember 1832 gesing. In hier die tydperk is note van die lied verander om te groei na die lied wat ons vandag ken. Tydens 'n ander geleentheid het die Rainer familie die kerslied in die teenwoordigheid van Keiser Franz I en Tsaar Aleksander I gesing. Gedurende 1839, het die Rainers "Stille Nacht" vir die eerste maal in Amerika gesing by die Alexander Hamilton Monument buite die Trinity Church in New York.

Joseph Bletzacher, 'n hofoperasanger van Hannover, beweer dat die lied reeds teen die 1840's goed bekend was in die gebied wat as Neder-Sakse bekend gestaan het. Hy het sê "In Berlyn het die Koninklike Katedraal koor die lied beroemd gemaak. Die lied was ook 'n gunsteling van Koning Frederick Willem IV van Pruise, wat die Katedraal Koor dit elke jaar tydens Kerstyd laat sing het."

Teen die tyd dat die lied beroemd in Europa was, was Joseph Mohr reeds dood en die komponis van die lied onbekend. Al het Franz Gruber aan die musiekowerheid in Berlyn geskryf dat hy die komponis van die lied was, is algemeen aanvaar dat die melodie die werk van Haydn, Mozart of Beethoven was. Die geskil is uiteindelik vier jaar gelede opgelos toe 'n verwerking van "Stille Nacht" in Joseph Mohr se handskrif gevind is. In die hoek van die dokument het Mohr geskryf, "Melodie von Fr. Xav. Gruber."

Franz Xaver Gruber, het gedurende sy leeftyd, 'n aantal orkesverwerkings van die lied gemaak. Die oorspronklike kitaarverwerking het met die jare verlore geraak, maar vyf ander Grubermanuskripte van die lied bestaan nog. Die manuskrip deur Joseph Mohr (circa 1820), wat ook vir kitaarbegeleiding bedoel was, is seker die weergawe wat die naaste aan die oorspronklike is aan die een wat tydens die middernagmis in 1818 gesing is.

In 'n latere stadium van Gruber se lewe het sy familie na Hallein getrek, na die plek waar die Franz Xaver Gruber Museum tans gehuisves word. Die museum bevat 'n aantal volledig gemeubeliseerde kamers tesame met 'n uitsonderlike versameling items wat met die geskiedenis van "Stille Nag" te doen het. Joseph Mohr se kitaar is ook in die museum te sien. Buite die gebou is Gruber se graf wat in Desember met 'n kersboom versier word.

Joseph Mohr se graf is in die klein Alpse ski-oord, Wagrain. Mohr het in 'n baie arm huis grootgeword en is in 1792 in Salzburg gebore. In armoede het hy ook in 1848 in Wagrain gesterf, waar hy as pastoor van die kerk gedien het. Hy het al sy besittings vir bejaardesorg en kinderopvoeding in die gebied geskenk. Ter herhinnering van hom is die Joseph Mohrskool 'n paar treë van sy graf opgerig. Die opsiener van St. Johann's, het eenmaal in 'n verslag aan die biskop Mohr beskryf as " 'n betroubare vriend aan die mensdom, en teenoor die armes, 'n sagmoedige, helpende vader."

In 1998 is daar gevind dat die geboorteplek van Joseph Mohr nie Steingasse 9 in Salzburg was nie. Navorsing deur sensusrekords het getoon dat Mohr en sy moeder wel in Steingasse 31 gewoon het. Omtrent dieselfde tyd het die goewerneur van Salzburg, Franz Schausberger, aangekondig dat daar opnuut reklame vir plekke, wat te doen het met die lied en sy komponiste, gedoen moet word. Uiteindelik het Oostenryk een van sy grootste skatte ontdek wat aansienlike aanhang in die buiteland geniet het.

Miskien is die feit dat die skrywer en komponeerder van die lied juis so nederig was, deel van die wonderwerk wat "Stille Nag" bied. Daar was geen wêreldberoemde sanger om die premiére van die lied te sing nie. Tog bring dit 'n boodskap van hemelse vrede oor grense en tale heen om die harte van mense orals te bereik.
 

(Kersfees geskiedekundige Bill Egan, is 'n afgetrede Vlootfoto-joernalis en bly tans in Flagler Beach, Florida. Hy is 'n skrywer vir 'n tydskrif met die naam Year 'Round Christmas Magazine en voorsien Kersfees navorsing vir Charles Osgood van "The Osgood File" op die CBS Radio Netwerk. Hy is ook die regisseur van die jaarlikse "Adventsingen" konsert in Daytona Beach en lewer lesings oor Kersfees reg oor die oostelike deel van die V.S.A. Bill het reeds verskeie plekke wat te doen het met Stille Nag besoek om navorsing te doen oor die geskiedenis van die wêreldbekende kerslied vir die Oostenrykse Nasionale Toeriste Kantoor of ANTO en Austrian Information. Gabriele Wolf van ANTO sê dat Bill Egan een van die voorste "Stille Nag" kenners in die V.S.A. is. Die Daytona Beach News-Journal is ook van mening dat hy een wêreld se grootste deskundiges op die gebied van die oorsprong van die lied is.) 


Contributions, send e-mail to: olivier@teachitza.com
 
 
Page created by Jako Olivier (2001) 
E-mail: olivier@teachitza.com
 
Return